English
IN HIERDIE AFDELING

 

Uitvoerende hoof se verslag

Dit is die opwindendste tyd nóg in die mediabedryf. Digitale platforms gee inhoudskeppers die geleentheid om enige tyd, op enige plek met gehore te skakel en onmiddellik terugvoer te kry, hul eie aanbod met gebruikergeskepte inhoud te verryk en bykomende inhoud soos video aan te bied.

Omdat breëband steeds so stadig en duur in Suid-Afrika is, toestelle en toegang tot data beperk is tot ’n betreklik klein gedeelte van die bevolking, en digitale advertensies nie vergoed vir die gaping wat dalende advertensie-inkomste in drukmedia gelaat het nie, bly dit egter steeds ’n uitdaging om nuwe sakemodelle te kry wat werk.

Hoewel joernalistiek – en inhoud – die kern van Media24 bly, gaan die maatskappy dus voort om sy portefeulje te diversifiseer om nuwe inkomstebronne te ontgin wat volhoubaarheid oor die lang termyn sal verseker.

Advertensie-inkomste – steeds ons belangrikste bron van inkomste – het die afgelope jaar ’n verdere knou gekry terwyl adverteerders hul bemarkingsbegrotings nog meer ingekort het en besteding vanaf drukmedia wegbeweeg het. Uitgewers het ook ’n algemene daling in koerant- en tydskrifsirkulasiesyfers gesien. Soos mediamaatskappye wêreldwyd, moes Media24 dus die dubbele slag van strawwe ekonomiese toestande en strukturele veranderings in die bedryf trotseer.

Hoewel omset met 5% tot R8,2mjd gegroei het, was die handelswins van R519m 5% swakker jaar tot jaar. Kostebesparings en verdere verbeterings van bedryfsdoeltreffendhede kon nie die uitwerking op ons wins ten volle absorbeer nie. Terselfdertyd het ons ook beleggings in nuwe groeigebiede verhoog.

Die afgelope jaar het nietemin vele hoogtepunte opgelewer. Aan bedryfskant het digitale gehore en inhoudverbruik oor alle platforms, veral selfone, ontplof. Ons het verder uitgebrei in die res van Afrika, ons drukkersbedrywighede gediversifiseer en uitgebrei, ons koerantvoetspoor en intekenaarbasis verbreed, verskeie nuwe produkte bekendgestel en ons eerste volskaalse e-handelsbesigheid van stapel gestuur. Ons nuus-, tydskrifte- en boeke-afdelings het weer al die groot bedryfspryse vir uitnemende joernalistiek en uitgewery ingepalm.

Volhoubare ontwikkeling

Media24 verbind gebruikers met inhoud, advertensies, produkte en dienste en kommunikasiekanale deur druk-, digitale en e-handelsplatforms. Ons evalueer gereeld ons vordering om ’n gebalanseerde, volhoubare besigheid te bou en gebiede te identifiseer waar ons kan verbeter.

Die direksie is uiteindelik verantwoordelik om te verseker dat volhoubare ontwikkeling met ons sakestrategie geïntegreer word. Die direksie delegeer die toepassing van die volhoubaarheidsbeleid aan bestuur, terwyl die oudit- en risikokomitees daaroor toesig hou. Operasioneel is volhoubare ontwikkeling deel van ons risikobestuursprosesse.

Die direksie is ook verantwoordelik vir die integriteit van geïntegreerde verslagdoening. Die ouditkomitee hou toesig oor volhoubaarheidskwessies en help die direksie met sy verslagdoening deur seker te maak dat die inligting in die geïntegreerde jaarverslag akkuraat en betroubaar is in vergelyking met die finansiële resultate.

In ooreenstemming met ons vorige geïntegreerde jaarverslae, sal Media24 voortgaan om die groep se maatskaplike, omgewings- en ekonomiese impak op die gemeenskappe waarin ons bedrywig is, aan te teken.

Bestuur van volhoubaarheid

Media24 se direksie bepaal die sakestrategie en is verantwoordelik vir toesig oor die groep se prestasie. Ons bestuurspan gee leiding en pas ooreengekome strategieë toe, aan die hand van ons kode vir etiek en sakegedrag. Ons raamwerk vir volhoubare ontwikkeling volg uit ons kernwaardes en ’n goeie begrip van die sleutelkwessies en kwelvrae van wesenlike belanghebbendes. Dit skakel direk met ons risikobestuursprosesse, wat die identifisering, bestuur en monitering van finansiële en nie-finansiële risiko’s integreer.

Beduidende verkope en verkrygings

Media24 het in die loop van die jaar 100% van I-Net Bridge, ’n toonaangewende verskaffer van finansiële data aan professionele beleggers, gekoop. Paarl Media het op 1 Augustus 2013 100% van Intrepid Printers Eiendoms Beperk verkry om sy drukkapasiteit en markaandeel in KwaZulu-Natal uit te brei.

Ons mense

Esmaré WeidemanOns probeer deurentyd om die beste talent te lok, te ontwikkel en te behou om ons mededingende voorsprong te handhaaf. Ons huldig die volgehoue passie, toewyding en uitnemendheid van ons redaksionele, verkoops-, kommersiële en tegniese spanne. Mense is ons waardevolste bate.

Belê vir toekomstige groei

Ons vier in Desember vanjaar met trots die honderdste bestaansjaar van ons stigtersmaatskappy, Naspers, maar Media24 is net so sterk ingestel op, en gereed vir die toekoms. Die strukturele verandering in die medialandskap verg ’n aptyt vir belegging en ’n langtermynsiening. As bestuurspan sal ons steeds daarop fokus om doeltreffendheid in ons tradisionele media-bedrywighede verder te verhoog, en terselfdertyd belê in hoë groeigeleenthede in drukmedia, digitale media, e-handel, sowel plaaslik as in die res van Afrika, om die besigheid vir toekomstige groei te posisioneer.

Ons streef steeds langtermynsukses na om waarde aan ons aandeelhouers te bied, en sal voortgaan om ’n positiewe bydrae te lewer tot die gemeenskappe waarin ons werk. Op nog 100 jaar!

Esmaré Weideman
Uitvoerende hoof

12 Junie 2014