English
IN HIERDIE AFDELING

 

Bedryfsoorsig

Paarl Media

Paarl Media het goeie vordering gemaak om produktiwiteit en doeltreffendheid te verhoog om die volhoubaarheid van sy kernbedrywighede te verseker, en terselfdertyd sy voetspoor uitgebrei en in nuwe marksegmente gediversifiseer. Paarl Coldset se drukkapasiteit is versterk om vir ekstra drukwerk voorsiening te maak. Die maatskappy het sy voetspoor in Afrika vergroot deur drukwerk vir demokrasie- en geletterdheidsprojekte in verskeie lande te verkry.

Nuus

Dit was vir die nuus-afdeling ’n jaar van hoogte- en laagtepunte. Kostebesparings was nie genoeg om die tekorte in advertensie- en sirkulasieverkope te dek nie. Sirkulasie het egter die afgelope paar maande gestabiliseer en ons plaaslike koerante het hul voetspoor in die noorde uitgebrei. Subskripsies is jaar tot jaar hoër en Media24 Nuus is nou die naasgrootste digitale nuusuitgewer in Suid-Afrika. Goeie vordering is ook gemaak om die besigheid in ’n 24-uur-nuusdiens oor drukmedia- en digitale platforms te omskep. Groei in digitale subskripsies vir ons hoof Afrikaanse dagblaaie – Die Burger, Beeld en Volksblad – was bemoedigend en video-opnameateljees is in Johannesburg en Kaapstad op die been gebring.

Tydskrifte

Tydskrifte het die afgelope jaar goed presteer. Hulle het verskeie inisiatiewe geloods om die voortgesette daling van beide tradisionele advertensies en sirkulasiesyfers teen te werk. Ons het steeds die grootste sirkulasie- en advertensiemarkaandeel onder die top vyf uitgewers in die land wat betref digitale en drukmedia. Die afdeling het sterk groei in sy digitale voetspoor op web-, tablet- en mobiele platforms gerapporteer – toegang deur mobiele media het nou toegang deur tafel-/persoonlike rekenaars oortref en is deur verskeie nuwe mobi-werwe versterk. MyEdit, ons inhoudsamevoegings-toep (‘app’) wen vinnig veld onder gebruikers sowel as adverteerders. Verkope van digitale uitgawes het jaar tot jaar met meer as 120% gestyg. Wat drukmedia betref, vaar ons belegging in nuwe en ontluikende marksegmente nog goed – beide Kuier en Move! se sirkulasie het jaar tot jaar met 15% toegeneem.

On the Dot

Te midde van dalende koerant- en tydskrifvolumes en stygende insetkoste weens die verswakking van die rand, het ons verspreidingsbesigheid daarop gefokus om sy netwerk te verbeter om die verspreidingskoste van koerante en tydskrifte te verminder. Ons het die afgelope jaar ongeveer 82m tydskrifte en 209m koerante versprei. Verkope via ons aanlyn-vervullingsplatform www.mysubs.co.za toon bestendige groei. On the Dot het gedurende die jaar ook vordering gemaak om sy pakhuis- en aanlyn-vervullingsbesigheid uit te brei en het nuwe kleinhandelskliënte bygekry.

Boeke

Opvoedkundige uitgewer Via Afrika Publishers het gebaat by die finale inwerkingstelling van die Suid-Afrikaanse skoolkurrikulum en is vir die derde opeenvolgende keer as Sefika se opvoedkundige uitgewer van die jaar aangewys. Jonathan Ball Publishers het hom weer as markleier hervestig danksy twee nuwe agentskappe, terwyl NB-Uitgewers sy leiersposisie in die plaaslike handelsmark verbeter het en weer 33 literêre pryse ingepalm het. Aan die digitale front groei e-boekverkope vinnig en ons uitgewers het nuwe toeps in die iStore en Play Store vrygestel.

24.com

24.com, die voorste digitale uitgewer in Afrika, het gemiddelde daaglikse bladlese oor sy netwerk met 15% verhoog, en gemiddelde daaglikse besoeke met 16% jaar tot jaar. Mobiele gehore het sterk gegroei en 24.com bereik nou 350 000 daaglikse aktiewe gebruikers via sy tablet- en selfoon-toeps. Die uitgewersbesigheid spits hom steeds toe op die uitbreiding van sy inhoudaanbod en het ’n videoproduksie-eenheid op die been gebring wat vinnig kykers wen. Careers24, ons geklassifiseerde werwings-advertensie-besigheid, het oor die tydperk van die vierde posisie tot markleier gestyg, volgens Alexa, ’n onderneming wat webwerfverkeer meet. News24 en Careers24 het ook hul werksaamhede in Nigerië uitgebrei.

e-Handel (Spree)

Media24 se e-modebesigheid, Spree, wat sterk gekoppel is aan van ons grootste tydskrifname, het ’n voorloper in Suid-Afrikaanse aanlyn-modewinkels geword sedert dit in April 2013 bekend gestel is. Benewens vrouemodes is verskeie nuwe kategorieë, waaronder huisdekor en ’n kinderafdeling, geloods.

INET BFA

McGregor BFA, ons finansiële datadienstebesigheid, het in November 2013 I-Net Bridge verkry, en staan nou bekend as INET BFA. I-Net Bridge se kernprodukte bedien die meeste batebestuurders in Suid-Afrika en is ’n markleier ten opsigte van getal gebruikers. Die gekombineerde entiteit is goed geposisioneer om die voorste verskaffer van Afrika-data aan beleggers en ondernemings in Suid-Afrika en regoor die wêreld te word.

Spree