English
IN HIERDIE AFDELING

 

Uitvoerende hoof se verslag

Esmaré Weideman

Esmaré Weideman
Ons het die afgelope jaar hard gewerk aan die regskikking van ons bedrywighede om doeltreffendhede te ontsluit en koste in ons drukmedia-afdelings te besnoei ten einde Media24 vir die toekoms te posisioneer. Ons het ook investering in nuwe groeigebiede – e-handel, aanlynwerwing en digitale media – verhoog en ek rapporteer graag dat hierdie ondernemings grootliks aan ons verwagtings voldoen het, of dit oorskry het.

Die trae ekonomie, tesame met ’n vinnig veranderende advertensielandskap, toenemende druk op verbruikersbesteding en die versnelde oorgang van drukmedia na digitale en mobiele platforms, het egter ’n ietwat onstuimige handelsomgewing tot gevolg gehad. Eskom-beurtkrag en ’n reeks poskantoorstakings het sake ook nie juis makliker gemaak nie.

Soos ons internasionale eweknieë, het Media24 se drukmedia-ondernemings weer die bedryfswinde van voor gekry. Laer advertensie- en sirkulasie-inkomste – steeds ons hoofbronne van inkomste – en verhoogde investering in ons nuwe sakegebiede het ons handelsvertoning gekniehalter. Omset is marginaal hoër op R8,3mjd, maar handelswins is 52% laer as die vorige jaar op R247m.

Aan bedryfskant was daar egter talle hoogtepunte in die jaar waarin ons ons 100ste verjaardag met trots gevier het. Ons het die markleier in alle sfere van druk en digitaal gebly en die Afrikaanse digitale bestemming, Netwerk24 – reeds die grootste betaal-nuuswebwerf in Suid-Afrika – gevestig. Careers24 het eksponensieel gegroei; ons aanlynmodebesigheid, Spree, het markaandeel gewen; en News24 Nigeria het momentum gekry.

Ons het ons media-bedrywighede herorganiseer om ’n gemeenskaplike digitale strategie te dryf – altesaam bereik ons nou meer as 2m unieke besoekers per dag, meer as 70% via mobiele toestelle. Ons Nuus-, Leefstyl- en Boeke-afdelings het weer al die groot bedryfspryse vir uitnemende joernalistiek en uitgewery ingepalm, terwyl ons digitale en e-handelspanne ook talle toppryse gewen het. Ons drukkery-onderneming, Paarl Media Group, is as Novus Holdings Beperk (“Novus Holdings”) op die JSE Beperk se aandelebeurs (JSE) genoteer om groei te ontsluit en sy diversifiseringstrategie te ondersteun.

Volhoubare ontwikkeling

As ’n toonaangewende mediamaatskappy streef ons deurentyd daarna om ons klante se lewens met ons innoverende druk-, digitale en e-handelprodukte en -dienste te verryk en ’n aanvaarbare opbrengs aan ons beleggers te bied. Ons is egter deeglik bewus van ons rol as ’n verantwoordelike korporatiewe burger en die noodsaak om ’n bydrae te lewer wat wyer strek as dit wat ons daagliks deur middel van ons sleutelbedrywighede doen. Ons evalueer gereeld ons vordering met die bou van ’n gebalanseerde, volhoubare organisasie en die identifisering van gebiede waar ons kan verbeter.

Bestuur van volhoubaarheid

Media24 se direksie bepaal die sakestrategie en is uiteindelik verantwoordelik vir toesig oor die groep se prestasie. Ons bestuurspan gee leiding en implementeer ooreengekome strategieë aan die hand van ons kode vir sake-etiek en -gedrag.

Ons raamwerk vir volhoubare ontwikkeling is gebou op ons kernvaardighede en waardes van moed, integriteit, verantwoordbaarheid en respek, asook ’n goeie begrip van die sleutelkwessies en kwelvrae wat ons wesenlike belanghebbendes raak. Dit skakel met ons risikobestuurprosesse, wat die identifisering, bestuur en monitering van finansiële en nie-finansiële risiko’s integreer.

Die direksie is ook verantwoordelik vir die integriteit van geïntegreerde verslagdoening. Die ouditkomitee hou toesig oor volhoubaarheidsaspekte en help die direksie met sy verslagdoening deur seker te maak dat die inligting in die geïntegreerde jaarverslag akkuraat en betroubaar is wanneer dit met die finansiële resultate vergelyk word.

Soos met vorige geïntegreerde jaarverslae sal Media24 voortgaan om die groep se maatskaplike, omgewings- en ekonomiese impak op die gemeenskappe waarin hy bedrywig is, aan te teken.

Beduidende verkope en verkrygings

Die volgende transaksies is gedurende die jaar gesluit:

  • Met ingang van 1 Junie 2014 het Novus Holdings die besigheid van Correll Tissue verkry, wat ons in staat stel om die afvalpapier wat deur drukkerye gegenereer word in sneespapier te omskep.
  • Op 31 Maart 2015 is Novus Holdings op die JSE genoteer. Media24 het ’n effektiewe aandeelhouding van 66,5% in Novus Holdings behou.

Ons mense

Ons streef deurentyd daarna om die beste talent te lok, ontwikkel en behou ten einde ons mededingende voorsprong te handhaaf. Ons sakesukses berus op die passie, harde werk, innoverende denke en uitnemendheid van ons mense – ons enkele belangrikste bate.

Om in die opwindende wêreld van die media te werk, moet jy bereid en in staat wees om aan te pas.

Ek glo eerlik dat ons personeel nie maar net met die stroom saamgaan nie – ons baanbrekerbenadering tot digitale investering werp nou vrugte af; ons het nog altyd die nuusagenda in die land bepaal en sal aanhou om dit te doen; en ons is altyd gereed om te eksperimenteer en nuwe terreine wat inskakel by ons kernbedrywighede, soos e-handel, te betree.

Belê vir groei

Verskeie inisiatiewe is op dreef om verdere koste te bespaar en doeltreffendheid in ons tradisionele besighede te ontsluit. Die groei-ondernemings waaraan ons tans in digitale media, e-handel en aanlynwerwing bou, toon groot belofte, maar verg aansienlike beleggings om aan te hou groei. Om “mobiel-eerste” te wees is natuurlik ’n groot fokuspunt oor al ons bedrywighede heen.

As bestuurspan glo ons dat ons die regte dinge doen om ’n volhoubare onderneming te bou. Ons wil ons besigheid laat groei om langtermynwaarde aan ons aandeelhouers te bied, en ’n positiewe bydrae lewer tot die gemeenskappe waarin ons werk.

Ons sal ook steeds onvermoeid werk om die ware kern van Media24 te beskerm: ons druk- en digitalemediabates. Suid-Afrika verdien ’n sterk, lewenskragtige en onafhanklike media, nou moontlik selfs meer as gedurende die afgelope 100 jaar.

Esmaré Weideman
Uitvoerende hoof

19 Junie 2015