English
IN HIERDIE AFDELING

 

Bedryfsoorsig

Novus Holdings (voorheen Paarl Media Group) het produktiwiteit en doeltreffendheid in sy kernbedrywighede – die druk van tydskrifte, koerante, katalogusse, brosjures en boeke – verhoog en terselfdertyd na nuwe marksegmente gediversifiseer. Die groep het na sneespapiervervaardiging uitgebrei – met die verkryging van die Correll Tissue-besigheid – en sy eerste handelskontrakte gesluit vir die druk van natgom-etikette vir vervaardigers van vinnig bewegende verbruikersgoedere. Hy het ook sy voetspoor op die res van die vasteland vergroot. Novus Holdings is op die JSE Beperk se aandelebeurs (JSE) genoteer met die oogmerk om sy drukkery-, etiket- en sneespapierbedrywighede uit te brei.

Die Nuus-afdeling het ’n moeilike jaar agter die rug, met aansienlike dalings in advertensie- en sirkulasie-omset ondanks voortgesette kostebesparingsmaatreëls. Nogtans het ons die plaaslike advertensie- en sirkulasiemarkleier gebly. City Press, die land se agendabepalende Sondagkoerant, het ’n groot bydrae tot die afdeling se wins gelewer. Ons titels vir die ontluikende mark – veral Daily Sun, Afrika se grootste dagblad, en Soccer Laduma, Suid-Afrika se tweede grootste koerant, asook Son – het goeie resultate gelewer. Die Afrikaanse nuuswebwerwe van Die Burger, Beeld, Volksblad en Rapport is gedurende die jaar saamgevoeg in Netwerk24, ’n enkele digitale betaalbestemming wat die beste Afrikaanse joernalistiek aanlyn bied. Die produk is goed deur die mark ontvang en het in sy eerste jaar stewige intekenaargroei getoon.

Leefstyl (voorheen Tydskrifte) het nog ’n goeie jaar gehad danksy tydige ingrypings om koste uit die besigheid te haal en nuwe inkomstegeleenthede te vestig soos aktiwiteite wat nou gekoppel is aan die afdeling se handelsmerke. Huisgenoot, YOU en DRUM het byvoorbeeld ’n wêreldrekord opgestel vir kaartjieverkope van die Days of the Dinosaur-uitstalling. Die weekblaaie en kontrakuitgewer, New Media Publishing, was die uitblinkers in die stal. Ons gesamentlike markaandeel gemeet aan leserstal het volgens All Media and Products Survey (AMPS) bestendig gebly op 80% en ons het ons voorste sirkulasie- en advertensiemarkaandeel onder die top vyf in die bedryf verbeter. Gehore op sosiale media en webverkeer het 47% jaar op jaar gegroei en toegang via tablette en selfone het 73% van die totale toegang tot ons digitale platforms beloop.

On the Dot het sy posisie verstewig as die markleier in die lewering van pakhuis- en vervullingsdienste vir e-handel in klerasie en huisware. Ons het ons e-handelpakhuisruimte in Kaapstad en Johannesburg vergroot, selfdedag-aflewering na meer as 200 woonbuurte in stedelike gebiede uitgebrei en kontrakte met nog groot kleinhandelaars gesluit. Inisiatiewe om die kostebasis te herskik en die verspreidingsnetwerk te verbeter ten einde krimpende koerant- en tydskrifvolumes in medialogistiek teen te werk, duur voort.

Ons Boeke-afdeling het sy leiersposisie in die Suid-Afrikaanse handelsmark behou, maar die wind van voor gekry weens trae handelsverkope, minder skoolboekbestellings in Suid-Afrika en Botswana, en die impak van langdurige posstakings. Via Afrika het sy digitale leierskap in basiese onderwys versterk en die plaaslike regte vir TABTOR, ’n wiskunde-hulpprogram vir tablette, bekom. Jonathan Ball Publishers het die agentskap van die Britse uitgewersmaatskappy Little Brown Book Group suksesvol met sy bestaande bedrywighede geïntegreer en die Amerikaanse uitgewer Harlequin se verspreidingsregte vir Suid-Afrika verkry. NB-Uitgewers het e-boekverkope met meer as 100% verhoog.

24.com bly Suid-Afrika se voorste nuus- en vermaakportaal en het die gemiddelde aantal daaglikse bladlese oor sy mediakanale heen die afgelope jaar vermeerder van 3,6m tot 7,2m, hoofsaaklik aangevuur deur toegang via mobiele toestelle. Nuus24 bly Afrika se gewildste gratis nuus-toep op sowel iOS as Android. Ons het News24 se bedrywighede in Nigerië uitgebrei en nader vinnig ’n top 10-posisie in die mark – ons verwag dat hierdie streek ons Suid-Afrikaanse gehoorbasis in die nabye toekoms sal verbysteek. Careers24, ons aanlynwerwingsonderneming, het uitstekende groei getoon en is sedert vroeg in 2015 die markleier in Suid-Afrika gemeet aan daaglikse unieke gebruikers en bladlese.

Ons E-handelafdeling se aanlyn-modebesigheid, Spree, het voortgebou op sy suksesvolle debuutjaar. Spree het sterk groei in verkope getoon en sy markaandeel die afgelope jaar aansienlik vergroot. Ons het produkkategorieë uitgebrei, ’n ooreenkoms met ’n toonaangewende internasionale modekleinhandelaar gesluit en ons eerste private handelsmerke bekendgestel.

INET BFA wat finansiëledata-dienste lewer, het bedrywighede en spanne suksesvol geïntegreer ná die samesmelting met I-Net Bridge in 2014. Ons het ons Afrika-navorsingsproduk, INET Expert, sowel as ons vlagskipproduk, IGraph, verryk en opgegradeer. IGraph word tans deur die meerderheid batebestuurders in Suid-Afrika gebruik. Ons het ook ons voetspoor na Nigerië uitgebrei.